text
stringlengths 0
41.1k
|
---|
Beeldhouwerk
|
Gemengde media
|
Beeldende kuns (ook genoem visuele kuns) behels enige sigbare kuns, maar sluit uitvoerende kunste uit.
|
Boeddhisme is ’n Dharmiese geloof of filosofie (Sanskrit: dharma; Pali: dhamma). Dit sluit ’n verskeidenheid tradisies, gelowe en spirituele gebruike in wat grootliks geskoei is op die leringe van Gautama Boeddha, algemeen bekend as die Boeddha ("die verligte een").
|
Volgens die Boeddhistiese tradisie het die Boeddha tussen die 6de en 4de eeu v.C. op die noordoostelike Indiese subkontinent gewoon en ander onderrig. Boeddhiste beskou hom as ’n "verligte" of "ontwaakte" onderwyser wat sy insig gedeel het om ander te help om hul lyding te beëindig deur die verbanning van onkunde en begeertes en deur die ontwikkeling van hul gees.
|
Geleerdes erken oor die algemeen twee bestaande takke van Boeddhisme: Theravada ("Tradisie van die Oudstes", soms verkeerdelik "Hinayana" genoem) en Mahayana ("Die Groot Voertuig"). Theravada het baie volgelinge in Sri Lanka en Suidoos-Asië (onder meer in Thailand, Birma, Laos, Kambodja). Mahayana kom voor in Oos-Asië (onder meer in China, Korea, Japan, Viëtnam, Singapoer, Taiwan) en sluit in die tradisies van Suiwer Land, Zen, Nichiren-Boeddhisme, Tibettaanse Boeddhisme, Shingon en ander. Vajrayana, ’n stel leringe wat toegeskryf word aan Indiese siddhas, kan beskou word as ’n derde tak of bloot deel van Mahayana. Tibettaanse Boeddhisme, soos beoefen in Tibet, Bhoetan, Nepal, die Himalajastreek van Indië, Kalmikië, Mongolië en omringende gebiede, volg die Vajrayana-leringe van die 8ste-eeuse Indië.
|
In Theravada-Boeddhisme is die primêre doel die behaling van die verhewe staat nirwana, wanneer ’n mens ontsnap van die siklus van lyding en hergeboorte. In Mahayana- en Tibettaanse Boeddhisme word na boeddhaskap gestrewe deur ’n bodhisattva te word en juis in dié siklus te bly met die doel om ander te help om verligting te behaal.
|
Boeddhistiese skole verskil oor die presiese aard van die pad na nirwana, die belangrikheid en egtheid van verskeie geskrifte en veral die toepassing daarvan. Een ding waaroor almal eens is, is dat daar geen skeppingsgod bestaan nie. Die grondbeginsels van die Boeddhistiese tradisie is die Drie Juwele: die Boeddha, die dharma (geloof) en die sangha (gemeenskap). Om "toevlug tot die drievoudige juweel" te neem is tradisioneel ’n verklaring dat iemand die Boeddhistiese pad volg, en onderskei Boeddhiste gewoonlik van nie-Boeddhiste. Ander praktyke kan insluit die gehoorsaming van etiese grondreëls; die ondersteuning van die kloostergemeenskap; afstanddoening van die gewone lewe om ’n Boeddhistiese kloosterlewe te lei; die ontwikkeling van die gees en die beoefening van meditasie; die kweek van groter wysheid en oordeel; die bestudering van die geskrifte; godsdienspraktyke; seremonies; en, in die Mahayana-tradisie, smeekbedes tot die boeddhas en bodhisattvas.
|
Die lewe van die Boeddha
|
Siddhartha Gautama het omstreeks die 6de eeu v.C. in Noord-Indië gewoon. Geskrifte gee verskillende weergawes van sy lewe. Die meeste kenners meen hy het wel bestaan, ander onderrig en ’n kloosterorde gestig, maar aanvaar nie alle besonderhede in sy biografieë nie. Volgens die skrywer Michael Carrithers behoort die algemene riglyne waar te wees: geboorte, volwassenheid, afstanddoening, soeke, verligting en bevryding, onderrig, die dood.
|
Volgens een vertelling was hy ’n prins en het ’n astroloog met die naam Asita kort ná sy geboorte Gautama se pa, Suddhodana, besoek en voorspel die kind sou óf ’n groot koning word óf afstand doen van die materiële wêreld om ’n heilige man te word – dit sou afhang van of hy die lewe buite die mure van die paleis sou sien.
|
Suddhodana wou seker maak sy seun word koning en het hom verbied om die paleis te verlaat. Op 29-jarige ouderdom het Gautama egter ’n paar keer uitgeglip en die lyding daarbuite aanskou. Hy het toe die koninklike lewe agtergelaat om ’n oplossing vir hierdie lyding te vind.
|
Ses jaar lank het hy probeer en misluk. Op 35-jarige ouderdom het hy eendag onder ’n vyeboom (Ficus religiosa) gaan sit en mediteer, en homself voorgeneem om nie weer op te staan voordat hy verligting behaal het nie. Ná baie dae het hy eindelik sy geestelike kettings afgeskud en homself so bevry van die siklus van lyding en hergeboorte. Toe hy opstaan, was hy ten volle verlig.
|
Kort hierna het hy volgelinge gelok en ’n kloosterorde gestig. Toe het hy, as die Boeddha, vir die res van sy lewe die pad na verligting wat hy ontdek het, aan ander geleer terwyl hy deur die noordoostelike Indiese subkontinent gereis het. Hy is op 80 jaar (in 483 v.C.) in Kushinagar, Indië, dood.
|
Boeddhistiese begrippe
|
Die lewe en wêreld
|
Samsara
|
In Boeddhisme word samsara gedefinieer as die voortdurend herhalende siklus van geboorte en die dood. Dit verwys spesifiek na die belewing van een hergeboorte ná die ander binne die ses vlakke van die bestaan, waar elke vlak verstaan kan word as ’n fisieke of sielkundige toestand wat gekenmerk word deur ’n spesifieke soort lyding. Samsara ontstaan uit avidya (onkunde) en word gekenmerk deur dukkha (lyding, angstigheid, ontevredenheid). Deur Boeddhisme is bevryding van samsara moontlik.
|
Karma
|
Karma (van Sanskrit vir "aksie, werk") is in Boeddhisme die krag wat samsara aandryf. Goeie, kundige dade (Pali: kusala) en slegte, onkundige dade (Pali: akusala) kweek "sade" in die gedagtes wat óf in hierdie lewe óf in ’n toekomstige lewe (ná hergeboorte) vrugte voortbring na gelang van die soort dade. Die vermyding van slegte dade en die kweek van goeie dade word sila genoem.
|
In Theravada-Boeddhisme is daar geen verlossing van of vergifnis vir jou karma nie, want dit is ’n suiwer onpersoonlike proses wat deel is van die heelal. In Mahayana-Boeddhisme word geglo die dreunsing of selfs net aanhoor van sekere soetras (soos die Lotus-, Angulimaliya- en Mahayana Mahaparinirvana-soetra) kan groot dele van jou negatiewe karma uitdryf. Ander skole soos Vajrayana beskou die sing of opsê van mantras as die manier om ontslae te raak van voorheen negatiewe karma.
|
Hergeboorte
|
Hergeboorte verwys na ’n proses waarvolgens wesens deur ’n reeks lewens gaan; elke lewe duur van bevrugting tot die dood. Die leerstelling van anatta verwerp die begrip van ’n permanente self of ’n onveranderlike, ewige siel soos dit in Hindoeïsme en die Christendom voorkom. In Boeddhisme is geen self onafhanklik van die res van die heelal nie. Hergeboorte tot nuwe lewens kan verstaan word as die voortsetting van ’n dinamiese, altyd veranderende proses van pratityasamutpada ("afhanklike ontstaan") wat bepaal word deur die wette van oorsaak en effek (karma) eerder as dié van een wese wat van een bestaan tot ’n volgende gereïnkarneer word.
|
Elke hergeboorte vind plaas op een van vyf vlakke volgens Theravada-Boeddhiste, of ses volgens ander skole.
|
Naraka-wesens: dié wat in een van baie narakas (helle) woon;
|
Preta: dié wat soms gedeeltelik mense se ruimte deel, maar vir die meeste mense onsigbaar is; ’n soort "spook";
|
Diere: hulle deel mense se ruimte, maar is ’n ander lewensvorm;
|
Mense: een van die vlakke van hergeboorte waarin nirwana behaal kan word;
|
Asuras: vertaal as demone, titane of antigode; dit word nie deur die Theravada-tradisie as ’n aparte vlak erken nie;
|
Devas, insluitende Brahmas: vertaal as gode, geeste of engele.
|
Volgens Oos-Asiatiese en Tibettaanse Boeddhisme is daar ’n tussenvlak (Tibettaans: bardo) tussen een lewe en die volgende een. Die ortodokse Theravada-tradisie verwerp dit; tog is daar dele in die Samyutta-nikaya van die Pali-kanon wat blykbaar die idee steun dat die Boeddha vertel het van so ’n tussenvlak.
|
Lyding: oorsake en oplossings
|
Die Vier Edel Waarhede
|
Die leringe oor die Vier Edel Waarhede word beskou as sentraal tot die leerstellings van Boeddhisme en verskaf ’n konsepraamwerk vir Boeddhisme. Dié vier waarhede verduidelik die aard van dukkha, die oorsake daarvan en hoe dit oorkom kan word. Die vier waarhede is:
|
Die waarheid van dukkha, of die aard daarvan: dit word gewoonlik vertaal as lyding, angstigheid, onvoldoendheid ens. en het drie aspekte: die ooglopende lyding van fisieke of geestelike siektes, veroudering en afsterwing; die angstigheid of stres van vashou aan dinge wat voortdurend verander; ’n subtiele ontevredenheid wat alle lewensvorme ervaar weens die feit dat alle lewensvorme verander, en deeltyds en sonder kern of inhoud is. Op dié vlak dui die term op ’n gebrek aan tevredenheid, ’n gevoel dat dinge nooit aan ons verwagtings of standaarde voldoen nie.
|
Die waarheid van die oorsprong van dukkha. Die oorsprong kan bekend wees. Dit word gewoonlik verduidelik as begeertes (Pali: tanha, "dors"), bepaal deur onkunde (Pali: avidya). Op ’n dieper vlak word die grondoorsaak van dukkha beskou as onkunde oor die ware aard van realiteit.
|
Die waarheid van die beëindiging van dukkha: dit is moontlik om dukkha te beëindig.
|
Die waarheid van die weg wat lei tot die beëindiging van dukkha: daar is ’n Edel Agtvoudige Pad na die beëindiging van dukkha.
|
Die Edel Agtvoudige Pad
|
Die Edel Agtvoudige Pad bestaan uit agt verwante faktore of voorwaardes wat saam kan lei tot die beëindiging van dukkha. Dié agt faktore is: korrekte insig, korrekte bedoeling (gedagtes), korrekte rede, korrekte handeling, korrekte lewensonderhoud (beroep), korrekte inspanning, korrekte bewustheid en korrekte konsentrasie.
|
Die faktore dui nie op "fases" wat die een ná die ander afgelê word soos op ’n gewone pad nie, maar is agt dimensies van ’n mens se optrede – geestelik en liggaamlik – wat onderling afhanklik werk en saam ’n volledige pad of lewenswyse definieer.
|
Die agt faktore word gewoonlik in drie afdelings verdeel:
|
Die vier verhewe geestestoestande
|
Die vier verhewe geestestoestande, of Brahmaviharas, is vier Boeddhistiese deugde en die meditasiepraktyke om hulle te ontwikkel. Hulle word ook "die vier onmeetbares" (Sanskrit: apramāṇa, Pali: appamaññā) genoem.
|
Volgens die Mettasutta in die Pali-kanon het Gautama Boeddha gemeen die ontwikkeling van die vier verhewe geestestoestande kan meebring dat die beoefenaar daarvan op ’n hoër vlak herbore word. Dié vier deugde is:
|
Metta/maitri: liefde; die hoop dat dit met almal goed gaan
|
Karuna: medelye; die hoop dat almal se lyding verminder
|
Mudita: deernis; vreugde in die dade en geluk van ander
|
Upekkha/upeksha: gelatenheid; om verlies en wins, lof en blaam, sukses en mislukking te leer aanvaar vir jouself én vir ander
|
Aard van die bestaan
|
Die konsep van bevryding (nirwana) – ’n basiese begrip in Boeddhisme – is nou verwant aan die oorkoming van onkunde (avidya), ’n basiese onbegrip of verkeerde idee van die aard van realiteit. In die ontwaking tot die ware aard van die self en alle verskynsels, ontwikkel ’n mens ’n onpartydigheid vir voorwerpe wat aan ’n mens "klou" en word jy verlos van lyding (dukkha) en die siklus van hergeboorte (samsara). Om dit te bereik, het die Boeddha aanbeveel, moet die mens kyk na dinge soos gekarakteriseer deur die "drie kenmerke van die bestaan".
|
Die drie kenmerke van die bestaan
|
Die drie kenmerke van die bestaan is verganklikheid, lyding en nie-self.
|
Verganklikheid (Pali: anicca) is die Boeddhistiese idee dat alle dinge en ervarings veranderlik, onbestendig en verganklik is. Alles wat ons met ons sintuie kan ervaar, bestaan uit dele en die bestaan daarvan is afhanklik van eksterne voorwaardes. Goed ontstaan voortdurend en hou op bestaan. Omdat niks bly voortduur nie, het geen voorwerp of ervaring ’n inherente of vaste aard nie. Die liggaam weerspieël dié verganklikheid deur die verouderingsproses, die siklus van hergeboorte en enige ervaring van verlies. Omdat alles verganklik is, dien dit geen doel om daaraan vas te klou nie omdat dit net lyding meebring.
|
Lyding (Pali: dukkha, Sanskrit duḥkha) is ook ’n sentrale begrip. Dit kan op verskeie maniere in Afrikaans vertaal word: lyding, pyn, ontevredenheid, hartseer, angstigheid, ongemak, vrees, stres, ongelukkigheid en frustrasie. Hoewel die woord "lyding" meestal gebruik word, is die filosofiese betekenis nader aan "ongerustheid". Die term "lyding" wek die indruk dat die Boeddhistiese siening pessimisties is, maar Boeddhisme is nie pessimisties of optimisties nie; dit is realisties. Die word "dukkha" word dikwels nie vertaal nie sodat dit ’n breër betekenis kan hê.
|
Nie-self (Pali: anatta, Sanskrit: anātman) is die derde kenmerk van die bestaan. As ’n mens dit van naderby beskou, is geen verskynsel werklik "ek" of "myne" nie; dié begrippe word in die brein geskep. In Boeddhisme word anatta nie bedoel as ’n metafisiese stelling nie, maar as ’n manier om verlossing van lyding te kry. Die Boeddha het beide stellings "Ek het ’n self" en "Ek het nie ’n self nie" as ontologiese menings beskou wat ’n mens aan lyding blootstel. As die Boeddhis die konstant veranderende fisieke en geestelike aard ontleed van die dele (skandhas) waaruit ’n mens of voorwerp saamgestel is, kom hy tot die gevolgtrekking dat nie die onderskeie dele of die geheel ’n self het nie.
|
Afhanklike ontstaan
|
Die leerstelling van pratityasamutpada, of afhanklike ontstaan, is ’n belangrike deel van Boeddhistiese metafisika. Daarvolgens ontstaan verskynsels saam in ’n wedersyds interafhanklike web van oorsaak en effek.
|
Die beste toepassing van die begrip is die Twaalf Nidanas (uit Pali: "oorsake", "fondamente", "bronne van oorsprong"), wat die herhaling van die siklus van geboorte en die dood in besonderhede beskryf.
|
Daar is ’n verband tussen die kenmerke van die siklus, en elk gee aanleiding tot die volgende een:
|
Avidya: onkunde, veral ’n spirituele onkunde oor die aard van realiteit;
|
Samskaras: formasie, wat verwys na karma;
|
Subsets and Splits
No community queries yet
The top public SQL queries from the community will appear here once available.