text
stringlengths
0
41.1k
Tropiese woude
Suid van die Himalaja lê die tropiese en subtropiese gebiede van Asië. Plek-plek kom daar wel struikwoestyne en droë bosse voor, maar tropiese reënwoude met 'n groot verskeidenheid van plante en diere oorheers. Baie van die boomsoorte lewer waardevolle hout, soos byvoorbeeld ysterhout, wat so swaar is, dat dit in water sink. Omdat daar geen groeiseisoen is nie, dra bome dwarsdeur die jaar vrugte. Baie van die tropiese plante lewer bekende speserye en grondstowwe, onder andere gemmer, kaneel en katoen.
Op die eilande is rubberplantasies en palms 'n algemene verskynsel. In die subtropiese savannegebiede woon 'n soort antiloop en die uiters seldsame Indiese leeu. Die grootste oerwoud bewoners is Asiatiese olifant, wat effens kleiner is as hul neefs in Afrika. Tiers, 'n klein soort renoster, Indiese-tapirs en orangoetangs se getalle is vinnig besig om af te neem. Dieselfde gebeur met die veelkleurige fisante van Suidoos-Asië.
Riviere en mere
Vis, op baie plekke die Asiate se enigste eiwitvoedsel, kom in groot getalle in al die riviere voor, veral in die koue riviere van Siberië. Rivierdolfyne kom in die groter riviere voor. In die tropiese en subtropiese gebiede tref 'n mens 'n paar soorte krokodille, waterskilpaaie en waterslange aan. Die Baikalmeer in Siberië is die habitat van die wêreld se enigste varswaterrob.
Skiereilande
Arabië en die Indiese subkontinent
Arabië is die grootste skiereiland ter wêreld en lê tussen die Rooisee en die Persiese Golf. Dit het 'n oppervlakte van sowat drie miljoen km² (ter vergelyking: die oppervlakte van Suid-Afrika is sowat 1 200 000 km²). Tog woon hier baie min mense, aangesien dit een van die droogste gebiede op aarde is.
Die reënval is so laag dat daar nie 'n enkele standhoudende rivier in hierdie hele uitgestrekte gebied is nie. 'n Groot deel van die binneland van die Arabiese skiereiland is ware woestyn, hoewel daar op sekere plekke 'n skraal plantegroei voorkom. Die hooglande van Jemen en Oman kry genoeg reën dat 'n paar gewasse verbou kan word, maar in die meeste ander dele is besproeiing noodsaaklik. Koffie word op die hooglande verbou, terwyl dadels en graansoorte by die oases gekweek word.
Kleinveeboerdery is die vernaamste menslike bedrywigheid, en skape, bokke, perde en kamele word aangehou. Arabië se rykdom lê egter nie op die grondoppervlak nie, maar daaronder: petroleum, wat veral aan die oostelike deel van die skiereiland groot rykdom besorg het. 'n Groot deel van die totale jaarlikse wêreldproduksie van petroleum kom uit hierdie streek. As die Indiese subkontinent beskou word as die gebied wat suid van die Indus-Ganges-vlakte lê, is die gebied effens kleiner as Arabië.
Die grootste deel van die skiereiland bestaan uit die Indiese Dekkan, 'n uitgestrekte plato wat sowat 600 m bo seevlak lê. Die Dekkan word in die ooste en in die weste deur berge begrens. Die Wes-Ghats is die hoogste van hierdie bergreekse en styg tot sowat 2 500 m bo seevlak (Anai Mudi). Die reënval van hierdie skiereiland kom streng seisoensgewys voor en die enigste rede waarom die gebied so baie mense kan onderhou, is die grootskeepse gebruik van besproeiing. Rys is die vernaamste oes langs die kus, terwyl Indiese manna of Guinee-koring op die plato self gekweek word. Katoen is baie belangrik in die noordwestelike deel van die Dekkan.
Indo-China
Hierdie skiereiland lê tussen Indië en China en is die suidelikste Asiatiese skiereiland. Dit strek in die suidweste tot by die lang, smal Maleise Skiereiland (Malakka), wat op sy beurt byna tot by die ewenaar strek. Die skiereiland omvat lande soos Mianmar, Thailand, Kambodja, Laos en Viëtnam. Die belangrikste landbouprodukte van die skiereiland met sy moesonklimaat is rys, rubber, tee, katoen, tabak en piesangs. Hierdie deel van Asië is egter ook ryk aan delfstowwe, veral tin en tungsten.
Kleiner skiereilande
Daar is nog baie kleiner skiereilande in Asië. Tussen die See van Ochotsk en die Beringsee lê die Kamtsjatka-skiereiland (270 000 km²). Van die noordooste na die suidweste op hierdie skiereiland loop die vulkaniese Sredinni-gebergte. Die hoogste spits is Kloetsjef (4 778 m). Vanweë die uiters ongunstige klimaatsomstandighede is die eiland, wat sedert 1706 aan Rusland behoort, baie dun bevolk.
Tussen die Geelsee en die See van Japan lê die skiereiland van Korea (220 000 km²); die Seestraat van Korea skei hierdie skiereiland van die Japanse eilande. Die oostelike deel is bergagtig en woudryk. In die weste word diep, vrugbare grond intensief benut. Die noordelike deel van die skiereiland is ryk aan verskeie minerale: goud, yster, steenkool, koper en lood. Die grootste rivier, die 790 km lange Yalu, vorm die grens tussen Korea en Mantsjoerye.
Eilande
Asië is 'n besonder eilandryke vasteland. Die ooskus van Asië bestaan uit 'n reeks eilandkettings, wat van Alaska tot by Sumatra strek. Kleiner eilandgroepe kom voor in die Golf van Bengale, in die Arabiese See en in die Noordelike Yssee. Die belangrikste eilandgroepe en eilande is (van noord na suid):
Die Aleoetiese Eilande
Hierdie eilandketting lê tussen Alaska en Kamtsjatka en omvat sowat 150 eilande en eilandjies van vulkaniese oorsprong. Die eilandketting is 1 750 km lank en beslaan 'n totale oppervlakte van 17 450 km². Die klimaat is straf en die reënval hoog. Die eilande word deur sowat 6 000 mense, meestal Inuïete, bewoon. Die Aleoete is in 1741 ontdek en is in 1867 saam met Alaska deur die Verenigde State van Rusland gekoop.
Die Koerile
Die Koerile is 'n 1 200 km lange eilandboog tussen Kamtsjatka en Japan. Dit bestaan uit altesame 36 eilande van vulkaniese oorsprong met 'n totale oppervlakte van 15 600 km². Die Koerile het tot in 1945 aan Japan behoort. Daarna het dit onder die beheer van die Sowjetunie gekom en behoort nou aan Rusland.
Die Japanse eilande
Japan bestaan uit vier hoofeilande en meer as 8 000 kleiner eilande met 'n totale oppervlakte van 372 487 km². Die eilande strek oor meer as 4 000 km van noord na suid. Die hoofeilande is Honsjoe, Hokkaido, Sjikokoe en Kioesjoe. Die eilande het talle inhamme en baaitjies aan die kus, terwyl die binneland in die algemeen taamlik bergagtig is. In Japan is daar 192 vulkane (waarvan 58 aktief) en talle warmwaterbronne, en die land word dikwels deur aardbewings geteister. Die· hoogste berg is Foedji (3 776 m) op die eiland Honsjoe. Die noordelike deel van Japan het 'n gematigde en die suidelike deel 'n subtropiese moesonklimaat.
Taiwan
Hierdie eiland, wat hoofsaaklik deur Chinese bewoon word, het 'n oppervlakte van 36 000 km² en 16 in die Oos-Chinese See. Die klimaat is gematig en die plantegroei welig Die belangrikste landbouprodukte is rys, suiker, patats, kanfer, neute, tee en hennep, terwyl goud, steenkool en aardolie ontgin word. Die berge in die ooste bereik by Mount Morrison 'n hoogte van 3 997 m. Die westelike deel van die eiland bestaan grotendeels uit laagland. Taiwan het vroeër as Formosa bekend gestaan.
Suidoos-Asiatiese eilande
Tussen Asië en Australië lê die eilande-wêreld van Indonesië en die Maleise argipel. Die meer as 22 000 eilande vorm die grootste argipel op aarde. Tot die argipel behoort onder meer die Soenda-eilande, die Molukke en die Filippyne. In hierdie aardbewingryke gebied word sowat 130 aktiewe vulkane aangetref. Die grootste eiland van die argipel, en een van die grootste eilande ter wêreld, is Borneo (ook bekend as Borneo; 751 000 km²).
Die binneland van hierdie eiland is baie bergagtig en dig bebos. Die sowat 6 miljoen inwoners woon hoofsaaklik in die kusstreke. Ander groot eilande is: Soematra (473 600 km²), Sulawesi (vroeër bekend as Celebes; 189 035 km²) en Java (132 267 km²). Die Filippyne (300 000 km²) bestaan uit 7 107 eilande, waarvan 730 bewoon word. Die grootste eilande is Luzon, Mindanao, Samar, Negros en Palawan. Hierdie eilande het 'n tropiese klimaat. Die Molukke (Maloekoe) lê tussen Sulawesi en Nieu-Guinee; hierdie eilande het 'n totale oppervlakte van 74 505 km² en word deur sowat 'n miljoen mense bewoon. Op hierdie eens beroemde spesery-eilande speel die verbouing van speserye vandag net nog 'n baie klein rol.
Ander Asiatiese eilande
Ander Asiatiese eilande word in die Noordelike Yssee, die Indiese Oseaan en die Middellandse See aangetref. Die grootste Asiatiese eilande in die Noordelike Yssee is Nowaja Zemlja (81 400 km²), Franz Josef-land (18 940 km²) en die Nieu-Siberiese Eilande. Die grootste eiland in die Indiese Oseaan is Sri Lanka of Ceylon, aan die suidpunt van Indië. Dit het 'n oppervlakte van 65 610 km². Daar is twee eilandgroepe in die Indiese Oseaan, die Andamane en die Nikobare, met 'n gesamentlike oppervlakte van 6 582 km². Die grootste eiland in die Middellandse See wat tot Asië behoort, is Siprus (9 251 km²). Die eiland word deur Grieke en Turke bewoon wat koring, olywe, druiwe en neute verbou.
Lande
Sien ook
Afrika-Eurasië
Eurasië
Vlae van Asië
Verwysings
Bronnelys
Kennis, 1980, ISBN 0-7981-0826-6, bl. 654 – 657
Wêreldspektrum, Volume 2, Bladsy 80, ISBN 0 908409 41 9
Eksterne skakels
Antofagasta is die grootste stad van die Norte Grande-streek van Chili en hoofstad van die gelyknamige provinsie met 404 654 inwoners (2012). Die stad is in 1870 gestig en in 1883 deur Chili van Bolivië gebuit.
Die stad is aan die Stille Oseaan geleë en is die hawe-afsetpunt vir die kopermyne van La Escondida en Chuquicamata - laasgenoemde is die grootste oppervlakmyn in die wêreld. Antofagasta is 'n gewilde vakansieoord en die beginpunt van die Andes-spoorlyn wat oor die 3 857 meter hoë Socoma-bergpas lei en die stad met Salta in Argentinië verbind. Sedert 1956 beskik Antofagasta oor 'n universiteit.
Nedersettings in Chili
Kommunes van Chili
Die Apostoliese Geloofsending van Suid-Afrika (AGS) is 'n klassieke Pinkster Christelike denominasie in Suid-Afrika. Met 1,2 miljoen aanhangers is dit Suid-Afrika se grootste Pinksterkerk en die vyfde grootste godsdiensgroepering in Suid-Afrika en verteenwoordig 7,6 persent van die bevolking.
Die AGS het ontstaan uit die Azusastraat-herlewing van 1905 in die Verenigde State, onder die naam Apostolic Faith Mission (AFM). Hulle glo eerstens in die Bybel en dat alles wat daarin staan, waar is; dat mens ná bekering na Christendom gedoop word deur middel van totale onderdompeling en daarna in tale kan begin praat wanneer hulle met die Heilige Gees gedoop word. Hulle glo nie net dat mense genees kan word wanneer daar vir hulle gebid word nie, maar dit is algemeen om genesings en ander wonderwerke te ervaar.
Verwysings
Pinksterkerke
Argitektuur (afgelei van die Latynse architectura en ontleen van die Griekse ἀρχιτεκτονία architektonía "boukuns, argitektuur" en ρχιτέκτων architekton "argitek", 'n samestelling van ρχι- "hoof" en τέκτων "skepper") is die ambag, kuns en wetenskap om geboue en strukture te ontwerp. Die presiese definisie van boukuns en argitektuur bly sedert die vroeë 20ste eeu omstrede - dit is afhanklik van die betrokke konteks. Die ontwerp en verwesenliking van geboue en strukture het dikwels estetiese, tegniese, ekonomiese en politieke implikasies. Gewoonlik word argitektuur as deeldissipline van die bouwese by die ingenieurswetenskappe gereken.
Grondbeginsels en moontlike definisies
Argitektoniese ontwerpe, wat materiële gestalte kry as geboue, word dikwels as kulturele simbole en kunswerke waargeneem en kan selfs ikoniese status bereik. 'n Argitek kan derhalwe aanspraak maak op die outeurs- en kopiereg van sy werk. Historiese beskawings word onder meer op die basis van hul argitektoniese prestasies beskryf. Volgens die eerste oorlewende werke van die onderwerp, wat uit die pen van die Romeinse argitek en siviele ingenieur Vitruvius (81–15 v.C.) gekom het en waarvolgens boukuns as "die moeder van alle kunste" gedefinieer word, word daar van drie grondbeginsels van argitektuur gepraat:
firmitas (stabiliteit en vastigheid),
utilitas (bruikbaarheid) en
venustas (skoonheid en estetiese genot).
Vir die moderne Griekse argitek Aris Konstantinidis (1913–1993) spruit die kunsaspek van argitektuur voort uit die missie wat die argitek vervul. Volgens hom is argitektuur "kuns, 'n kreatiewe werk om ruimtes te vorm vir die lewe van 'n menslike gemeenskap. Met sy werksaamheid vervul die boumeester 'n missie. Sy werk weerspieël nie net die wêreld van tegniek nie, maar ook gedagtes, maatskaplike verhoudings, lewensvorme, tradisies, gewoontes en gevoelens van mense van 'n bepaalde tydperk in 'n land."
Die Duitse digter Johann Wolfgang von Goethe (1749–1832) het op 'n heel ander aspek van argitektuur gefokus waardeur dit in die kunssfeer gebring word. Vir hom baseer boukuns op die noukeurige kennis van die boumateriaal, op die bepaalde gebruik waarvoor 'n gebou bestem is, die harmonie van die sintuiglike waarneming daarvan en op die "poësie wat van 'n bouwerk werklik 'n kunswerk maak." Hierdie subjektiewe definisie fokus sterk op historiese of klassieke argitektuur as boukuns, sowel as die kreatiwiteit en vernuf van die boumeester.
Verwysings